In the News

18
Dec

Pickvest: Beleggers in opstand

Duisende wil eiendomsmagnaat hof toe sleep.

Deur David van Rooyen Sondag 16 November 2014 3:00 vm.

Die verhaal van hoe ’n Suid-Afrikaanse eiendomsmagnaat se twyfelagtige vennootskap met direkteure van ’n eiendomsindikasiemaatskappy bykans 9000 onskuldige beleggers erg benadeel het, ontvou dalk binnekort in die hof.

In die hofstukke wat vier beleggers in die beleërde Pickvest ingedien het om toestemming te kry om ’n groepgeding namens 9 000 beleggers van stapel te stuur, word beweer Nic Georgiou was die man wat die toutjies getrek het in die skema wat daartoe kan lei dat beleggers miljarde rande verloor.

Georgiou is die eerste respondent in die aansoek. Sy eiendomsgroep besit onder meer die Fourways Mall in Johannesburg en die Loch Logan-kompleks in Bloemfontein.

Georgiou en sy seuns, George en Michael, trustees van die NG Trust, maatskappye in die Georgiou-groep wat die sindikasies se sake bestuur het, die direkteure van Pickvest en selfs Hans Klopper, die sakereddingspraktisyn wat Pickvest se sakereddingsplan bestuur, is die respondente.

As hulle toestemming kry, hoop die vier beleggers om ’n eis in te stel namens die sowat 9 000 beleggers wat sowat R3,6 miljard in vier sindikasies, Highveld 19, 20, 21 en 22, belê het en die gevaar loop dat hulle byna alles sal verloor. Hulle verdien lankal nie meer rente op hul beleggings nie.

Van die bewerings is dat Georgiou self of deur sy trusts en maatskappye al die geld ontvang het wat in die sindikasies belê is omdat al die geboue waarin beleggers se geld belê moes gewees het, van die Georgiou-groep af gekom het.

Georgiou het egter in die tyd na bewering:

  • Geboue aan die sindikasies verkoop vir tot twee keer soveel soos die werklike waarde;
  • In die geval van Highveld 21 en 22 is die eiendomme nooit aan dié sindikasies oorgedra soos wat die verkoopsooreenkomste bepaal het nie;
  • Ooreenkomste om die geboue terug te koop en vasgestelde huuropbrengste aan beleggers te betaal, eensydig verbreek;
  • Die bestuur van Pickvest en verwante maatskappye in sy sak gehad en dit is die rede waarom die maatskappye nooit opgetree het om te verseker
  • dat die eiendomme oorgedra word soos wat die koopooreenkoms vereis het nie.
  • Bepaalde prosedures verbreek deur self onverkoopte aandele in sindikasies 21 en 22 te koop en te herverkoop toe die die aandele-aanbod in die sindikasies nie volskryf was nie. Die regte prosedure was dat die sindikasies ontbind en die geld aan beleggers teruggegee word.

Hy het na bewering R131 miljoen se aandele te veel verkoop, maar die inkomste uit die oorbodige aandele is nooit aan beleggers teruggegee nie en is as ’n lening aan een van sy eie eiendomsmaatskappye toegewys.

Pickvest, wat aanvanklik as PIC Investments bekend was, is deur Chrysander Botha begin wat talle sindikasies van stapel gestuur het. Botha het sy aandele in PIC later aan Rikus Myburgh verkoop wat daarvoor betaal het met geld wat die klaers beweer Georgiou beskikbaar gestel is. Die klaers beweer Myburgh was óf Georgiou se frontman óf dat hulle baie nou saamgewerk het.

Die Georgiou-groep het al die eiendomme waarin Pickvest-beleggers se geld in sindikasies 19 tot 22 belê moes gewees het, aan die sindikasies verkoop.

Van die eiendomme is egter vir baie meer as die markwaarde verkoop, wat verklaar waarom die eiendomme tans baie minder werd is as die sindikasiewaarde daarvan.

In die geval van sindikasie 21 is eiendomme vir R1,332 miljard aan beleggers verkoop, maar die klaers beweer ’n onafhanklike waardeerder gee die eiendomme ’n waarde van net R628 miljoen.

Pickvest het die beleggers se geld ontvang en dit is uit ’n trustrekening aan ’n maatskappy, Bosman & Visser, oorbetaal wat toe die eiendomme by Zephy (later Zephan), ’n maatskappy in die Georgiou-stal, gekoop het. Bosman & Visser het dieselfde direkteure as Pickvest.

Die eiendomme wat Bosman & Visser namens sindikasies 21 en 22 vir meer as R2,2 miljard by Zephy gekoop het, is tot vandag toe nie aan die sindikasies oorgedra het, wat beteken dat beleggers se geld nie deur enige bates gedek word nie.

Georgiou beweer die oordrag word teruggehou omdat Bosman & Visser nog R888 miljoen op die eiendomme skuld. Laasgenoemde ontken dit.

In die hofstukke word aangevoer dat die geld volgens Bosman & Visser se state wel oorbetaal is, en daar is ook afskrifte van koopooreenkomste waarin gestipuleer word dat die koopsom ten volle vereffen is.

Die klaers verkwalik Myburgh en Bosman & Visser se direkteure daarvoor dat hulle nooit hul fidusiêre pligte nagekom het deur niks te doen om te verseker dat die oordragte wel plaasvind nie. Hulle beweer dit dui daarop dat Myburgh en sy kollegas in Georgiou “se sak” was.

Myburgh-hulle was na bewering ook die agente wat die aandele van Georgiou-hulle wederregtelik herverkoop het. Die Raad op Finansiële Dienste het Pickvest se lisensie teruggetrek om as finansiëlediensverskaffer op te tree.

Pickvest se pogings om daardie beslissing in die hof tersyde gestel te kry, het misluk en regter C.T. Howie het in sy uitspraak gesê Pickvest se direksie het met bedrieglike voornemens handel gedryf.

Lang verhaal van verbreekte beloftes

Beleggers in Pickvest, wat eers PIC en toe PICvest was, se verbintenis met die Georgiou-groep is ’n lang verhaal van verbreekte beloftes.
Dit is waarskynlik geregverdig om te sê dat baie van die beleggers in die skema se jongste sindikasies (Highveld-sindikasies 19 tot 22) juis daarin belê het weens die verbintenis met die vooraanstaande Georgiou-groep.

Die vier jongste sindikasies het al hul eiendomme van ’n enkele bron, die Georgiou- eiendomsgroep, gekoop. Die Georgiou-groep het ’n ooreenkoms met die sindikasies onderteken om vasgestelde huurgeld vir die eiendom te betaal wat aan hulle gewaarborgde opbrengste van tussen 10% en 12% sou gee. Die Georgiou-groep sou ná ’n sekere tydperk die geboue teen die sindikasiewaarde terugkoop, wat ’n belegging in Pickvest baie veilig en winsgewend laat lyk het.

Sulke gewaarborgde huurgeld vir ’n bepaalde tydperk, ongeag of die eiendomme ten volle verhuur is of nie, is standaardpraktyk in eiendomstransaksies.

Beleggers het altesame sowat R4,5 miljard in eiendomme belê, maar in 2010 is die ooreenkoms eensydig gekanselleer. Beleggers is toe ingelig dat hulle net markverwante opbrengste van sowat 6% sou verdien. Die rede wat gegee is, is dat die Reserwebank glo ’n regsmening ingewin het en dat die Georgiou-skema van gewaarborgde huurgeld daarvolgens ’n oortreding van die Bankwet was.

Die klaers sê egter volgens hul navrae by die Reserwebank het hy sy ondersoek na die wettigheid van die skema gestaak omdat hy nie daarvan oortuig was dat die skema wel die Bankwet oortree nie.

Hierna het die dopmaatskappy Orthotouch, wat deur Georgiou beheer word, die eiendomsindikasies in 2011 as deel van ’n sakereddingsplan gekoop. Hy sou beleggers se beleggings oor vyf jaar aan hulle uitbetaal. Georgiou sou bykomende eiendomme van R500 miljoen aan Orthotouch oordra om die portefeulje se inkomste te vergroot sodat die beloofde opbrengste betaal kon word.

Dit het egter gou duidelik geword dat Orthotouch geldelik nie die mas opkom nie. Die beleggers in die sindikasies 19 tot 21 het agt maande laas ’n maandelikse betaling gekry en die beleggers in sindikasie 22, 24 maande laas.

Daarom is beleggers in Oktober gevra om weer vir drie moontlike opsies te stem wat die huidige reddingsplan vervang, maar wat hulle waarskynlik selfs minder geld in die sak sal bring.

Die sakereddingspraktisyn Hans Klopper het in Oktober in ’n inligtingstuk aan beleggers gesê die waarde van die sindikasies is nou net R2,6 miljard.

Uitgewer: Netwerk24: Deur David van Rooyen Sondag 16 November 2014 3:00 vm