In the News

27
May

Pickvest-beleggers een tree nader aan hul dag in die hof

27 Mei 2016 

Die meer as 6 000 Pickvest-beleggers wat ’n groepsgeding teen die direkteure van die mislukte eiendomsindikasie wil instel, is een tree nader daaraan om hul dag in die hof te kry.

Die Gautengese hooggeregshof het besluit om die tegniese besware van die hand te wys wat deur die direkteure van die sakereddingsmaatskappy Orthotouch ingedien is en waarin daar onder meer verwag is dat die hofaansoek op meer as 23 000 beleggers in die Higveld Syndica­tion- (HS) maatskappye beteken moes word.

Donderdag se uitspraak maak die deur oop vir ’n aansoek om ’n hele aantal individue wat gemoeid was met die mislukte Highveld-eiendomsindikasies no. 15 tot no. 22 asook met Orthotouch persoonlik verantwoordelik te hou vir die verlies wat beleggers gely het.

“Dit is duidelik dat die aansoekers nie ys in die winter van enige van die respondente sou kry… tensy dit deur die hof beveel sou word nie,” het regter Brian Spilg in sy uitpraak gesê oor Ortotouch se tegniese beswaar dat die vier aansoekers om die groepsgeding nie besonderhede van al 23 000 geaffekteerde beleggers kon verskaf in hul hofaansoek nie.

Dít terwyl Orthotouch die enigste een is wat ’n lys met besonderhede van al die beleggers sou hê.

Reëlingskema

Die beleggers in die mislukte HS-maatskappye is op 12 November 2014 in ’n omstrede vergadering die keuse gegee om vir ’n nuwe reëlingskema te stem wat die bestaande reddingsplan moet vervang en as “volle en finale vereffening” sou dien.

Indien hulle nie daarvoor sou stem nie, sou Ortho­touch gelikwideer word, en sou hulle net 13,64c in elke rand kry, en waarskynlik eers ná baie jare, is destyds aan die beleggers gesê

Woedende Pickvest-beleggers het op die vergadering oor ’n nuwe reëlingskema hul stembriewe opgeskeur uit protes teen die manier waarop die proses gehanteer is, en omdat hulle gedwing is om daar en dan te stem sonder dat hulle hul finansiële adviseurs kon raadpleeg.

Die reëlingskema is egter in die hof bekragtig.

Hofaaansoek

Daarna is aansoek gedoen om dié sanksionering van die Orthotouch-reëlingskema kragtens art. 155 van die Maatskappywet ter syde te stel. Dit sou ’n voorloper wees van die sertifiseringsaansoek van die groepsgeding, het Jacques Theron van Theron en Vennote, die prokureursgroep wat die hofaansoek vir die groepsgeding hanteer, gesê.

Die respondente, insluitend Orthotouch en sy besturende direkteur, die eiendomsmagnaat Nic Georgiou, is deur die hof gelas om die koste van hul aansoek te betaal en Orto­touch en die sakereddingspraktisyn Hans Klopper moet ook voor 6 Junie ’n lys verskaf aan die aansoekers se prokureurs van alle persone wat geregtig was om te stem oor die reëlingskema.

Noudat die tegniese besware uit die weg geruim is, gaan die groepsgeding volstoom voort, het Helgard Hancke, bestuurslid van die Highveld Syndication Action Group (HSAG) aan Sake gesê.

Uitgewer: Netwerk 24 | Vida Booysen | 27 Mei 2016