Pickvest: Saak oor reddingsplan uitgestel
Deur Niel Joubert | Donderdag 21 Mei 2015 05:20
Die hofstryd tussen die direkteure van Orthotouch en Pickvest-beleggers gaan vir eers moet wag nadat nuwe skote tussen die betrokke partye afgevuur is.
Die beleggers het in die Johannesburgse hooggeregshof aansoek gedoen dat die nuwe Orthotouch art. 155-reëlingskema, wat die hooggeregshof op 26 November 2014 bekragtig het, tersyde gestel word.
Orthotouch is die maatskappy wat Pickvest se Highveld-eiendomsindikasies no. 15 tot no. 22 as deel van ’n sakereddingsplan gekoop het.
Verlede jaar is beleggers gevra om te stem vir ’n nuwe reëlingskema wat die bestaande reddingsplan moes vervang. Die aansoek dat dié proses tersyde gestel word, sou Dinsdag aangehoor word, maar is uitgestel.
Volgens Orthotouch het die regsfirma Theron en Vennote, wat sommige beleggers in die Highveld-sindikasiemaatskappye verteenwoordig, die hof se reëls doelbewus verontagsaam en sowel adjunkregterpresident Mojapelo as regter Moshidi, die regter wat die reëlingskema bekragtig het, mislei.
Theron en Vennote het die bewerings as “blatant misleidend en vals” uitgemaak en gesê hy “verwerp dit met minagting”.
Volgens Orthotouch het Theron en Vennote Mojapelo versoek om die saak na ’n ander regter te verwys, aangesien Moshidi blykbaar nie beskikbaar was nie.
In die skriftelike versoek aan Mojapelo het Theron en Vennote spesifiek genoem dat die datum van 19 Mei vooraf gereël en bevestig is met die kantoor van Moshidi, volgens Orthotouch.
Volgens Orthotouch het Mojapelo toe die kwessie met Moshidi opgeneem, waarna Moshidi in ’n skriftelike antwoord aan Mojapelo:
■ Ontken het dat hy ooit ooreengekom het op ’n verhoordatum en dit nie kon doen nie, aangesien hy met verlof was;
■ Bevestig dat deur hom regstreeks te nader pleks van die hooggeregshof se registrateur, Theron en Vennote die verkeerde hofprosedures gevolg het; en
■ Sy verontwaardiging uitgespreek het daaroor dat hy verkeerd aangehaal is en dat hy van plan is om stappe te doen teen Theron en Vennote sodra hy terugkeer van verlof.
Volgens Theron en Vennote is dit als vertragingstaktieke.
“Dit is duidelik dat mnr. Nic Georgiou, Orthotouch en mnr. Hans Klopper (om die een of ander onbekende rede) alles in hul vermoë sal doen om te keer dat hierdie aangeleentheid (en natuurlik al die ander aangeleenthede rakende die meriete van hierdie saak) spoedig voor ’n hof gelug word.”
Volgens hulle het hulle besluit om nie voort te gaan met die verhoor op 19 Mei nie om moontlike verdere onnodige koste te vermy.
Hulle het eerder besluit om aansoek te doen vir die aanstelling van ’n regter om die saak te bestuur om “seker te maak dat die reg seëvier” en ook om verdere vertragings te voorkom.
Uitgewer: Netwerk 24 – Deur Niel Joubert | Donderdag 21 Mei 2015 05:20



